Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 59:14-21 Die Boodskap (DB)

14. Daar is nie meer regverdige uitsprake in die hof nie. Waarheid het tot ’n val gekom. Eerlikheid mag nie eers meer in die hofsaal inkom nie.

15. Die waarheid het weggeraak. Iemand wat probeer om kwaad te vermy word daarvoor vervolg.Die Here het gesien wat gebeur. Dit is vir Hom heeltemal verkeerd dat daar nie meer geregtigheid onder ons is nie.

16. Die Here is verbaas om te sien dat daar niemand was wat ingryp om dinge te probeer verander nie. Hy gaan daarom self optree om toe te sien dat daar geregtigheid kom.

17. Hy gaan regverdigheid aantrek soos ’n soldaat sy uniform. Hy gaan bevryding op sy kop sit soos ’n ysterhelm. Hy trek die klere van vergelding aan. Hy gaan sy woede aan sy lyf dra soos ’n jas.

18. Hy gaan elkeen terugbetaal vir wat hy gedoen het. Hy sal sy teëstanders terugbetaal met woede en sy vyande met hulle eie dade. Hy sal die lande wat oorsee is, volgens hulle verkeerde optrede vergeld.

19. Dan sal almal in die wêreld respek hê vir die Here. Hy sal kom soos ’n bruisende rivier wat deur ’n stormwind aangejaag word.

20. Die Here sal na Sion kom om almal te bevry wat hulle verset teen die Here laat staan het, so het die Here gesê.

21. Ek gaan ’n ooreenkoms met hulle aan, sê die Here: My krag sal by julle bly. Wat Ek vir julle gesê het, sal by julle en julle nageslag en ook hulle kinders bly, van nou af en vir altyd.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 59