Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 51:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Julle wat probeer om reg te doen moet na My luister. Julle wat na die wil van die Here soek, moet luister. Onthou uit watter soort rots julle gekap is. Onthou uit watter steengroef julle kom.

2. Dink aan julle stamvader Abraham. Roep Sara, julle stammoeder, in herinnering. Ek het Abraham geroep toe hy nog nie kinders gehad het nie. Ek het hom voorspoedig gemaak. Hy het ’n groot nageslag gekry.

3. Die Here is jammer vir Sion. Hy gaan die puinhope van Jerusalem herstel. Hy gaan Juda se woestyn soos die tuin van Eden laat word. Die Here gaan die droë dele in tuine verander. Daar sal vreugde en vrolikheid in die stad wees. Hulle sal sing en vir die Here dankie sê.

4. My volk, julle moet na My luister. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal die nasies leer hoe hulle moet lewe. Ek sal vir hulle met my reëls die koers aanwys.

5. Binnekort sal Ek hulle verlos. Ek is Koning oor die nasies. Die lande oorsee wag vir My. Hulle is gretig dat Ek oor hulle sal regeer.

6. Kyk op in die lug. Kyk af na die grond. Die lug sal soos rook verdwyn. Die aarde sal word soos ou klere wat uitmekaarskeur. Dié wat op die aarde woon, sal doodgaan soos muskiete. Die bevryding wat Ek bring, sal vir altyd hou. My redding het geen einde nie.

7. Julle wat weet wat reg is, moet na My luister. Julle is mos ’n volk wat die wil van die Here met julle hele hart soek. Julle moenie bang wees vir mense wat julle spot nie. Julle moenie skrik as hulle julle slegsê nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 51