Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 48:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Om my Naam skoon te hou sal Ek sorg dat Ek nie vir jou kwaad word nie. Om my eer te beskerm sal Ek jou nie verwoes nie.

10. Ek het jou gesmelt, maar nie soos silwer gesmelt word nie. Ek het jou in die oond van swaarkry gesmelt.

11. Ek het dit gedoen om my Naam in ere te hou. Ek laat nie my eer aantas nie. Ek staan nie my eer aan afgode af nie.

12. Jakob, jy moet na My luister. Ek het Israel geroep om aan My te behoort. Ek is die Here. Ek is die eerste en die belangrikste.

13. Ek het met my eie hand die fondamente van die aarde gelê. Ek het met my regterhand die hemelkoepel gespan. As Ek die mense roep om My te kom sien, kom staan hulle op aandag voor My.

14. Kom almal hier bymekaar. Kom luister wat Ek sê. Was daar een van die gode wat vir julle gesê het dat Ek ’n man gaan kies wat Babel gaan aanval? Hy sal met die Galdeërs maak soos Ek besluit het.

15. Ek self het besluit om hom te roep. Ek stuur hom na Babel toe. Hy sal suksesvol wees met wat hy gaan doen.

16. Kom staan hier naby My. Hoor wat Ek sê. Van die begin af sê Ek dit openlik. Wanneer dit gebeur, sal Ek by wees.Die Here my God stuur my. Hy gee my sy Gees om saam met my te gaan.

17. Die hoë God van Israel, die Here wat jou bevry, sê vir jou: Ek is die Here. Ek is jou God. Ek leer jou wat vir jou goed is. Ek laat jou die regte pad loop.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 48