Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 43:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Ek het ander mense in jou plek laat doodgaan. Ek het ander volke laat doodgaan sodat jy kan bly lewe. Jy is so dierbaar vir My. Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou.

5. Jy moenie bang wees nie, want Ek staan langs jou. Ek sal jou nageslag uit die ooste uit laat terugkom. Ek sal hulle bymekaarmaak uit die weste uit.

6. Ek sal vir die noorde beveel om hulle terug te gee. Ek sal die suide belet om hulle terug te hou. Laat my seuns wat ver is, terugkom! Laat my dogters terugkom van die uithoeke van die aarde af waarheen hulle weggevoer is.

7. Laat almal terugkom wat aan My behoort. Laat elkeen wat Ek gemaak het, terugkom om My te eer. Laat almal wat Ek geskep het en Myne gemaak het, terugkom.

8. Laat die volk hiernatoe kom met sy oë wat nie wil sien nie. Laat hulle kom met hulle ore wat nie wil hoor nie.

9. Laat al die nasies bymekaarkom. Maak die volke bymekaar vir ’n hofsitting. Watter god onder hulle kan dinge voorspel? Watter een kan vooraf sê wat gaan gebeur? Laat hulle hulle getuies bring wat dit kan bewys. Laat die een wat hulle verhoor, besluit of hulle die waarheid praat.

10. Julle is my getuies, Israel, sê die Here. Julle behoort aan My. Ek het julle vir My gekies sodat julle My kan ken. Ek het julle gekies dat julle in My kan glo en kan verstaan dat net Ek God is. Daar was nie ’n god voor My nie. Na My sal daar ook geen ander god wees nie.

11. Ek, Ek self is die Here. Daar is niemand anders wat julle kan red behalwe net Ek nie.

12. Ek het voor die tyd gesê Ek sal julle red. Ek het dit gedoen. Ek het seker gemaak dat julle weet dat dit Ek was wat julle gered het. Daar was nie ’n ander god tussen julle wat dit kon doen nie. Julle is my getuies, sê die Here, net Ek is God.

13. Nou en vir altyd is Ek God. Niks kan by My weggevat word nie. Wat Ek doen, kan niemand verander nie.

14. Die hoë God van Israel wat jou red, die Here, het gesê: Ek stuur iemand om teen Babel te gaan veg, sodat julle gered kan word. Ek laat die Galdeërs wat daar woon, vlug. Hulle vlug in die skepe waarmee hulle so gespog het.

15. Ek is die Here, jou hoë God. Ek het Israel gemaak. Ek is julle Koning.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 43