Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 43:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het jou gemaak, Jakob. Hy het jou ’n volk gemaak, Israel. Hy sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek sal jou red. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My.

2. As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy oor ’n rivier moet kom, sal die water jou nie wegspoel nie. As jy naby ’n vuur moet verbygaan, sal die hitte jou nie verskroei nie. Die vlamme sal jou nie brand nie.

3. Ek is mos die Here jou God wat vir jou sorg. Die hoë God van Israel red jou. Ek het Egipte ter wille van jou opgeoffer. Ek het Kus en Seba vir jou geruil en hulle gestraf.

4. Ek het ander mense in jou plek laat doodgaan. Ek het ander volke laat doodgaan sodat jy kan bly lewe. Jy is so dierbaar vir My. Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou.

5. Jy moenie bang wees nie, want Ek staan langs jou. Ek sal jou nageslag uit die ooste uit laat terugkom. Ek sal hulle bymekaarmaak uit die weste uit.

6. Ek sal vir die noorde beveel om hulle terug te gee. Ek sal die suide belet om hulle terug te hou. Laat my seuns wat ver is, terugkom! Laat my dogters terugkom van die uithoeke van die aarde af waarheen hulle weggevoer is.

7. Laat almal terugkom wat aan My behoort. Laat elkeen wat Ek gemaak het, terugkom om My te eer. Laat almal wat Ek geskep het en Myne gemaak het, terugkom.

8. Laat die volk hiernatoe kom met sy oë wat nie wil sien nie. Laat hulle kom met hulle ore wat nie wil hoor nie.

9. Laat al die nasies bymekaarkom. Maak die volke bymekaar vir ’n hofsitting. Watter god onder hulle kan dinge voorspel? Watter een kan vooraf sê wat gaan gebeur? Laat hulle hulle getuies bring wat dit kan bewys. Laat die een wat hulle verhoor, besluit of hulle die waarheid praat.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 43