Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 40:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Vul die leegtes op. Stoot die berge en die heuwels plat. Maak die draaie reguit. Maak die klipperige grond glad.

5. Dan sal die Here kom. Almal saam sal sien hoe wonderlik die Here is. Die Here het self belowe dat Hy sal kom.”

6. Iemand sê vir my: “Jy moet ’n boodskap gaan bring.”Ek vra: “Wat moet ek gaan sê?”“Gaan sê vir hulle dat alle mense eintlik maar soos gras is wat weer doodgaan. Hulle is soos die blomme in die veld. Binne ’n dag is hulle klaar geblom.

7. Wanneer die Here die wind daaroor laat waai, droog die gras uit en die blomme gaan dood. Die mense is ook maar soos die gras.

8. Gras droog uit. Blomme gaan dood. Maar wat die Here sê, hou vir altyd.”

9. Sion, gaan klim op ’n hoë berg. Bring die goeie nuus. Jerusalem, skreeu die wonderlike boodskap uit met alles wat jy het. Moenie bang wees nie. Skreeu so hard as jy kan. Sê vir die dorpe in Juda: “Kyk, die Here gaan kom!”

10. Die Here kom met krag. Hy sal regeer met mag. Hy kom gee sy beloning. Hy kom gee ook sy straf.

11. Hy sal vir sy volk sorg soos ’n skaapwagter sy skape oppas. Hy dra die lammers in sy arms. Hy hou hulle teen Hom vas. Hy sorg vir elke lammer se ma.

12. Wie kan met sy hand uitmeet hoeveel hande vol water daar in die see is? Wie kan meet hoe groot die blou lug daar bo is? Kan iemand sê hoeveel emmers vol stof daar op die aarde is? Kan iemand sê hoe swaar die berge weeg? Kan iemand sê wat die heuwels op ’n skaal sal weeg?

13. Wie kan vir die Here vertel wat Hy moet doen? Wie is daar by wie die Here raad kan kom vra?

14. By wie kan die Here kom kers opsteek as Hy nie verstaan nie? Wie kan vir die Here leer wat die regte pad is? Wie kan vir die Here leer hoe Hy dinge moet verstaan?

15. Die nasies is vir die Here soos ’n druppel in ’n emmer. Hulle is so min soos ’n stoffie wat jy op ’n skaal probeer weeg. Die lande is vir Hom so lig soos ’n sandkorreltjie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 40