Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 40:23-31 Die Boodskap (DB)

23. Hy vat konings weg. Hy maak asof die regeerders van die wêreld nie eens bestaan nie.

24. Hulle is soos ’n plant wat skaars geplant is en begin wortelskiet of God laat ’n wind daaroor waai wat dit uitdroog. Hulle waai in ’n storm weg, soos wind stukkies gras wegwaai.

25. Die groot God vra: “Wie is daar met wie julle My kan vergelyk? Wie is daar wat net soos Ek is?”

26. Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie.

27. Jakob, waarom beweer jy dan dat die Here nie raaksien wat met jou gebeur nie? Waarom sê jy, Israel, dat Hy Hom nie daaraan steur dat jy verontreg word nie?

28. Verstaan julle nie en begryp julle dan nie dat die Here vir ewig en altyd God is nie? Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nooit moeg nie. Hy word nooit uitgeput nie. Niemand kan Hom regtig verstaan nie.

29. Hy gee vir dié wat uitgeput is weer nuwe krag. Hy maak dié wat swak geword het, weer sterk.

30. Selfs dié wat jonk is se krag kan ingee. Dié wat nog in die krag van hulle lewe is, kan inmekaarsak.

31. Maar hulle wat op die Here vertrou, kry altyd weer krag. Hulle word soos ’n arend wat vlieg. Hulle hardloop en word nooit moeg nie. Hulle loop en raak nooit uitgeput nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 40