Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 40:18-27 Die Boodskap (DB)

18. Met wie kan julle God vergelyk? Watter beeld kan julle gebruik om Hom te beskryf?

19. Hy is mos nie soos ’n afgodsbeeld wat uit yster gegiet word en wat ’n kunstenaar dan met goud en silwer oortrek nie.

20. Hy is ook nie soos ’n man se afgod wat ’n beeldhouer vir hom uit harde hout gemaak het wat op sy voete kan staan nie.

21. Weet julle nie? Verstaan julle dan nie wat al van die begin van die wêreld af vir julle vertel is nie?

22. Die Here bly doer bo in die lug. Die mense wat onder op die aarde bly, lyk van daar af so klein soos sprinkane. Hy span die blou lug uit soos ’n dak bo-oor ’n tent. Hy slaan dit op soos ’n tent om in te bly.

23. Hy vat konings weg. Hy maak asof die regeerders van die wêreld nie eens bestaan nie.

24. Hulle is soos ’n plant wat skaars geplant is en begin wortelskiet of God laat ’n wind daaroor waai wat dit uitdroog. Hulle waai in ’n storm weg, soos wind stukkies gras wegwaai.

25. Die groot God vra: “Wie is daar met wie julle My kan vergelyk? Wie is daar wat net soos Ek is?”

26. Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie.

27. Jakob, waarom beweer jy dan dat die Here nie raaksien wat met jou gebeur nie? Waarom sê jy, Israel, dat Hy Hom nie daaraan steur dat jy verontreg word nie?

Lees volledige hoofstuk Jesaja 40