Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 37:2-21 Die Boodskap (DB)

2. Daarna stuur hy vir Eljakim en Sebna saam met die leiers van die priesters na Jesaja toe, almal ook met rouklere aan.

3. By Jesaja aangekom, het hulle vir hom die volgende boodskap van Hiskia af gegee: “Ons beleef ’n verskriklike tyd. Ons word bedreig en beledig, dis eintlik tragies, maar ons is soos ’n swanger vrou wat moet geboorte skenk, maar nie die krag het om te kraam nie.

4. Miskien het die Here jou God gehoor hoe die Assiriese amptenaar die lewende God beledig en uittart en sal Hy hom straf vir wat hy gedoen het. Maar in elk geval vra ek jou om te bid vir die klompie van ons wat nog oor is.”

5. Nadat Hiskia se amptenare die boodskap afgelewer het,

6. het Jesaja hulle met sy eie boodskap huis toe gestuur. “Gaan sê vir die koning: so sê die Here: Moenie jou ontstel oor die lasterlike goed wat die amptenaar van My gesê het en bang wees vir sy dreigemente nie.

7. Luister, Ek sal seker maak dat hy ’n boodskap van sy land af kry dat hy dringend soontoe moet terugkom. Dan sal Ek sorg dat hy in sy eie land doodgemaak word.”

8. Op pad terug van Jerusalem af het die Assiriese amptenaar gehoor dat Sanherib uit Lakis uit weg is en besig was om teen Libna te veg. Hy is toe soontoe om met hom te gaan beraadslaag oor wat in Jerusalem gebeur het.

9. Nie lank daarna nie het nog ’n berig by Sanherib aangekom. Die berig het gesê dat Tirhaka, die koning van Kus, op pad was om hom aan te val. Voor hy daar weg is om teen Tirhaka te gaan veg, het hy weer vir Hiskia ’n boodskap gestuur:

10. “Moenie dat jou God jou mislei met praatjies dat ek nie in staat is om Jerusalem in te neem nie.

11. Jy weet baie goed dat die konings van Assirië nog altyd elke land verwoes het wat hulle aangeval het. Wat maak jou so anders?

12. Was daar enige van die ander volke se gode wat hulle mense kon red? My voorgangers het hulle almal vernietig. Noem hulle op: Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar.

13. Waar is die konings van Hamat, Arpad, Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14. Nadat Hiskia die boodskap gelees het, is hy tempel toe daarmee. Daar het hy die brief vir die Here voorgelees

15. en gebid:

16. “Almagtige Here, God van Israel, U wat op u troon bokant die gerubs sit, U alleen is God van al die koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.

17. Here, luister wat sê Sanherib en kyk wat doen hy. Hierdie boodskap wat hy gestuur het, dryf die spot met U, die lewende God!

18. Here, ons weet almal dat hy die waarheid praat oor al die nasies wat die Assiriese konings al verwoes het,

19. en hoedat hulle hulle gode gevat en in die vuur gegooi het om te verbrand. Maar ons weet hoekom hulle dit kon regkry. Dit was nikswerd afgode, beelde van hout en klip wat deur mense gemaak is.

20. Daarom bid ek: Here ons God, beskerm ons teen die aanvalle van die Assiriërs. Dan sal al die mense van die wêreld besef dat net U, Here, werklik God is.”

21. Hierop het Jesaja die volgende boodskap van die Here vir Hiskia gestuur: Die Here die God van Israel het jou gebed oor Sanherib, die koning van Assirië, gehoor.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 37