Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 36:14-22 Die Boodskap (DB)

14. Moenie dat koning Hiskia julle mislei nie. Hy sal julle nooit teen my kan beskerm nie.

15. Hy probeer julle laat glo dat julle op die Here kan vertrou en dat die Here julle sal verlos. Hy lieg as hy julle probeer wysmaak dat Jerusalem nooit in die koning van Assirië se mag sal kom nie.

16. Moenie na Hiskia luister nie! Aanvaar eerder hierdie voorwaardes van die koning van Assirië: Kom uit en gee julle vrywillig oor. As julle dit doen, sal ek julle toelaat om in vrede te bly lewe. Julle sal toegelaat word om op julle eie grond aan te bly en julle eie vrugte te bly eet en water uit julle eie putte te drink.

17. Later sal ek julle kom haal sodat julle saam met my kan teruggaan na ’n land toe wat net so vrugbaar is soos julle eie, met volop kos.

18. Moenie dat Hiskia julle mislei om te dink dat die Here julle sal red nie. Dink net vir ’n oomblik mooi daaroor: Kon enige van die ander volke se gode hulle al ooit uit die Assiriese koning se mag red?

19. Waar was die gode van Hamat en Arpad toe ek hulle gebiede ingeneem het? En wat van die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria dalk red?

20. Daar was nog nie een god wat sy land en sy mense teen my kon verdedig nie, nie een nie! Wat gee julle die idee dat die Here Jerusalem kan red?”

21. Die soldate op die mure het doodstil gebly, want koning Hiskia het hulle beveel om nie ’n woord te sê nie.

22. Eljakim, Sebna en Joag het toe van ontsteltenis hulle klere geskeur. Daarna is hulle terug na koning Hiskia toe om vir hom die hele storie te gaan vertel.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 36