Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 32:10-19 Die Boodskap (DB)

10. Op die oomblik kan julle wel selfversekerd aangaan asof niks julle ooit kan pla nie, maar oor ’n bietjie meer as ’n jaar sal julle beslis bekommerd raak, want daar sal nie druiwe wees om te oes of vrugte om te pluk nie.

11. Tot nou toe het julle gemaklik en sorgvry geleef, maar nou het die tyd aangebreek vir julle om te bewe van vrees. Trek uit julle mooi klere en trek vir julle rouklere aan.

12. Slaan op julle bors van hartseer oor julle welige landerye en julle vrugbare wingerde wat verwoes is.

13. Treur oor my volk se grond wat deur die dorings en onkruid toegegroei word en oor die huise waarin daar soveel vrolikheid was en oor die vrolike stad waarin daar uitbundig feesgevier is.

14. Selfs die paleis is verlate en die stad wat altyd so besig was, is leeg. Waar die wagtoring op die heuwel was, sal dit vir altyd ’n veld wees waar die wildedonkies loop en vreet en die veetroppe wei.

15. Dit sal so bly totdat die Gees van die hemel af op ons uitgestort word. Dan word die wildernis soos ’n vrugteboord en die vrugteboord word so dig dat dit vir ’n bos aangesien word.

16. Dan sal daar oral in die land reg en geregtigheid wees.

17. Dit sal die oorsaak wees dat daar vrede in die land is en almal sal vir altyd rus en veiligheid kan geniet.

18. My volk sal rustig en sonder bekommernisse in hulle huise kan bly. Hulle sal veilig en onbesorg wees.

19. Maar eers sal die vyand verwoes word soos wanneer hael die bosse tref en hulle hoofstad sal met die grond gelykgemaak word.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 32