Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 30:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Daar wag swaarkry op my opstandige kinders, sê die Here, want hulle maak planne wat nie van My af kom nie en voer dit uit. Hulle sluit verdrae wat nie volgens my wil is nie en daardeur stapel hulle hulle sonde al hoër op.

2. Hulle stuur afvaardigings Egipte toe, sonder om My te raadpleeg, om daar hulp te gaan vra. Hulle stel hulle vertroue in die farao met die hoop dat hy hulle sal beskerm.

3. Maar daardie hoop gaan op niks anders as vernedering vir hulle uitloop nie.

4. Al strek sy mag van Soan tot by Ganes, sal dit hulle niks baat nie. Met hierdie volk sal hulle net aan die kortste ent trek.

5. Al wat dit hulle in die sak sal bring, is skande en vernedering, beslis nie hulp nie.

6. Kyk hoe trek die arme pakdiere deur die gevaarlike woestyngebied met sy leeus en slange en selfs vlieënde drake na Egipte toe. Die donkies en kamele kreun onder die gewig van die geskenke wat op hulle gelaai is. Hulle doen dit alles om hulp te gaan soek by ’n volk wat hulle nie kan help nie.

7. Egipte se beloftes is leeg en die hulp wat hy kan gee, beteken niks. Daarom het Ek hom die bynaam Rahab gegee, die monster wat niks beteken nie.

8. Gaan skryf hierdie woorde op waar Juda by is en bewaar dit veilig sodat dit ’n getuienis teen hulle kan wees in die toekoms,

9. want hulle is ’n opstandige klomp leuenaars wat weier om na die Here se raad te luister.

10. Vir die profete en die sieners sê hulle: “Ons wil niks van julle visioene weet nie. Moenie julle vir ons wil kom vertel wat reg is nie. Kom vertel ons liewer wat ons wil hoor, al is dit nie wat die Here vir julle gesê het nie.

11. Gee pad voor ons met julle doemprofesieë. Ons is moeg daarvoor. Ons het meer as genoeg gehad van julle praatjies oor die heilige God van Israel. Hou op om vir ons te preek!”

12. Maar nou sê Israel se heilige God vir julle: “Julle het my waarskuwing verwerp omdat julle staatmaak op afpersing en bedrog.

13. Hierdie sonde is vir julle net so gevaarlik soos ’n stadsmuur wat begin oorhang het na die een kant toe: dit val in ’n oogwink en sonder waarskuwing om.

14. Julle sal vernietig word net soos ’n kleipot wat fyn en flenters gebreek word totdat daar nie eers ’n groot genoeg potskerf oorbly waarmee ’n mens ’n paar kooltjies uit die vuur kan skep of selfs ’n bietjie water uit ’n put kan skep nie.”

15. Maar die Here, die heilige Regeerder van Israel, sê: “Slegs as julle julle bekeer en julle vertroue in My stel en rustig op My wag, sal julle gered word. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” Maar daarvan wou julle niks weet nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 30