Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 3:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Luister nou mooi, die Here die Almagtige gaan alles en almal waarop die mense van Jerusalem en Juda gereken het van hulle af wegvat. Al hulle kos, water en ander noodsaaklike lewensmiddele.

2. Ook hulle leiers, elke soldaat, regter, profeet, waarsêer, amptenaar,

3. offisier, hooggeplaaste, raadgewer, ambagsman en selfs dié wat met hulle toordery ’n invloed op mense uitoefen.

4. Hy sal kinders en onervare jongmense aanstel om oor die volk te regeer. Hulle sal al die gesag hê.

5. Mense sal mekaar uitbuit en benadeel. Kinders sal nie respek hê vir volwassenes of hulle gesag aanvaar nie. Nikswerd, oneerlike mense sal die eerbare mense uitlag.

6. Mense van dieselfde familie sal in daardie tyd vir een van hulle familielede sê: “Luister, jy het darem nog klere, wees jy ons leier. Skep orde in hierdie chaos om ons!”

7. Maar hy sal sê: “ Nee, dankie, ek stel nie belang om leiding te neem nie. Ek het nie eens genoeg kos en klere vir my eie gesin nie. Ek wil nie betrokke raak nie.”

8. Jerusalem waggel soos iemand wat op sy laaste bene is en Juda het in duie gestort omdat hulle in woord en daad teen die Here in opstand gekom het en geweier het om sy gesag te aanvaar.

9. Hulle gesigsuitdrukkings verraai hulle, hulle is skaamteloos bevooroordeeld. Hulle doen openlik sonde net soos Sodom, hulle probeer dit nie eers wegsteek nie. Daar wag geweldige swaarkry op hulle, maar hulle het dit oor hulleself gebring.

10. Sê vir dié wat aan God gehoorsaam gebly het dat dit met hulle goed sal gaan. Daar wag ’n beloning vir hulle.

11. Maar met die slegte mense sal dit moeilik gaan. Dit wat hulle aan ander mense gedoen het, sal nou na hulle toe terugkom.

12. Fortuinsoekers en afpersers buit my volk uit. My volk, jou leiers is besig om jou te mislei en jou van koers af te bring.

13. Die Here neem sy plek in die hofsaal in en die groot aanklaer is gereed om sy saak te stel.

14. Die leiers en die hoë amptenare kom eerste aan die beurt: “Julle het my volk soos ’n wingerd gestroop en nou sit julle met die arm mense se besittings in julle huise.

15. Wat het julle besiel om my volk so in die grond in te vertrap en die hulpeloses so uit te buit?” vra die Here my God, die Almagtige.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 3