Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 29:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Jerusalem, jy sal nog swaarkry, sê die Here, al staan die heilige altaar in jou en al is jy die stad van Dawid. Al hou julle jaar na jaar julle feeste op die regte tye,

2. sal Ek Jerusalem in ’n hoek dryf. Daar sal baie swaarkry en hartseer in hierdie stad wees. Die hele stad sal soos ’n offeraltaar met bloed bedek wees.

3. Ek sal jou van alle kante af aanval en jou mense van die buitewêreld afsny.

4. Jerusalem sal soos ’n lyk wees wie se gees onder uit die graf uit probeer praat, ’n spookstem wat uit die grond uit mompel.

5. Maar al hierdie wrede vyande wat in hulle hordes op jou toegesak het, sal soos fyn stof in die wind weggewaai word,

6. want die Here die Almagtige sal skielik tot jou redding kom met ’n donderstorm en ’n aardbewing wat met ’n geweldige gedreun gepaardgaan. Daar sal storms en orkane wees, en ’n vuur wat alles voor die voet vernietig.

7. Dan sal al die nasies wat teen Jerusalem geveg en hulle laat ly het, verdwyn asof dit alles net ’n nare nagmerrie was, ’n droom wat jy kan vergeet.

8. As iemand honger is en hy droom hy eet, is hy nog steeds honger as hy wakker word. En as iemand wat dors is, droom hy drink water, is sy keel nog steeds kurkdroog as hy wakker word, sy dors is nie geles nie. Net so sal dit gaan met die gesamentlike magte van al die nasies wat teen Jerusalem veg.

9. Is julle verdwaas en verstom, kan julle dit nie glo nie? Hou julle dan maar blind as dit moet. Julle sal dronk wees, maar nie omdat julle wyn gedrink het nie, en julle sal loop en slinger sonder dat julle naby sterk drank was.

10. Want die Here het julle in ’n diep slaap laat val en die profete en sieners wat julle oë en verstand moes wees, se oë is toe en hulle verstand is benewel, sodat hulle niks sien en verstaan nie.

11. Die hele openbaring is nou vir julle soos ’n boek wat verseël is. As jy dit vir iemand gee wat kan lees, sal hy sê: “Ek kan dit nie lees nie; die boek is met ’n seël toegemaak.”

12. En as jy dit vir iemand sou gee wat nie kan lees nie, sal hy sê: “Ek kan nie lees nie.”

13. Die Here het gesê: Hierdie volk praat asof hulle My ken en My dien. Hulle gebruik al die regte en bekende woorde, maar hulle lewe baie ver van My af. Hulle godsdiens is niks anders nie as ’n klomp mensgemaakte reëls wat hulle uit die kop uit ken en opsê.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 29