Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 22:16-25 Die Boodskap (DB)

16. Wie dink jy is jy? Wie het jou die reg gegee om vir jou ’n graf hier in die rotse te laat uitkap tussen die konings se grafte?

17. Jy mag dink jy is belangrik, maar die Here gaan jou gryp en jou uitskud soos ’n mens klere uitskud om ’n luis daaruit te kry.

18. Daarna sal die Here jou in ’n klein balletjie rol en jou ver weggooi tot in ’n droë, uitgestrekte land. Daar sal jy doodgaan en al jou pragtige koetse waarop jy so trots is, sal nutteloos en stukkend daar bly staan, want jy het jou koning in die skande gesteek.

19. Die Here gaan jou uit jou amp ontslaan en jou van al jou aansien stroop.

20. Nadat Ek dit gedoen het, sê die Here, sal Ek my dienaar Eljakim, die seun van Gilkija, roep en hom in jou plek aanstel.

21. Hy sal jou ampsklere dra, jou titel kry en die gesag hê wat jy gehad het. Omdat hy hulle belange op die hart dra en hulle versorg, sal hy vir die inwoners van Jerusalem en Juda ’n vaderfiguur wees.

22. Ek sal vir hom die belangrikste posisie in die paleis gee. Hy sal net onder die koning wees en daarom sal hy die sleutels van die paleis dra. Hy sal oop- en toesluit waar hy wil en niemand sal hom kan teëgaan nie.

23. Hy sal so standvastig en onwrikbaar soos ’n tentpen wees wat behoorlik ingeslaan is, niks sal hom kan beweeg nie. Hy sal die trots van sy familie wees.

24. Maar die las en die druk van sy familie sal net te veel word vir hom. Hy sal soos ’n haak wees waaraan daar te veel swaar goed hang. Die een of ander tyd moet dit ingee.

25. Daarom, so sê die Here die Almagtige, kom daar ’n dag wanneer hierdie stewige pen net sal ingee, dit sal afbreek en val en alles wat daaraan gehang het, sal saam val en stukkend breek. Die Here het dit gesê.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 22