Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 21:5-16 Die Boodskap (DB)

5. Kyk na Babel, hulle dek sowaar nog tafels om fees te vier en gooi matte op die vloer waarop die feesgangers kan sit. Offisiere, kry eerder julle wapens slaggereed vir die oorlog!

6. Die Here het my die opdrag gegee om ’n wag uit te sit sodat hy kan rapporteer wat hy sien en hoor.

7. As hy strydwaens en perderuiters met troppe donkies en kamele sien aankom, moet hy hulle fyn dophou.

8. Toe het die wag uitgeroep: “Meneer, ek het dag en nag op my pos in die wagtoring gebly.

9. Kyk, uiteindelik kom daar strydwaens en perderuiters aangery. Skielik skree iemand: Babel het geval, en al die afgode van Babel lê in stukkies op die grond!”

10. O, my volk wat so stukkend getrap lê soos graan wat op die dorsvloer uitgetrap word, alles wat ek vir jou gesê het, is wat ek by die Here die Almagtige, die God van Israel, gehoor het.

11. Die Here se boodskap om Edom se straf aan te kondig: Van Edom af roep iemand na die wag en vra: “Wag, wanneer breek die dag? Wanneer is die nag verby?”

12. Die wag antwoord: “Die môre is amper hier, maar die nag kom weer. As jy weer ’n keer wil kom vra, kom vra gerus.”

13. Die Here se boodskap om Arabië se straf aan te kondig: Julle handelaars van Dedan, gaan kruip weg in die woestyn van Arabië.

14. Mense van Tema, gee vir die vlugtelinge kos en water.

15. Want hulle het vir die geweld van die oorlog gevlug omdat hulle met swaarde en pyle en boë aangeval is.

16. Maar dit het die Here vir my gesê: “Oor presies ’n jaar, en dit gaan nie ’n maklike jaar wees nie, sal Kedar sy magtige posisie verloor.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 21