Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 21:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Die Here se boodskap om Babel se straf aan te kondig: Soos warrelwinde wat oor die Negevwoestyn aangewaai kom, so kom daar invallers van die woestyn se kant af uit ’n land waarvoor almal bang is.

2. Ek het ’n skrikwekkende visioen gesien, ’n visioen van verwoesting en verraad. Elam, julle moet aanval! Medië, julle moet die stede beleër! Die Here gaan ’n einde maak aan al die swaarkry wat Babel veroorsaak het.

3. Die goed wat ek gesien het, is so angswekkend dat my hele liggaam inmekaartrek soos ’n vrou wat besig is om te kraam.

4. My kop draai en my keel trek toe van vrees. My rustige slaap is iets van die verlede, ek lê in die nag wakker en bewe van angs.

5. Kyk na Babel, hulle dek sowaar nog tafels om fees te vier en gooi matte op die vloer waarop die feesgangers kan sit. Offisiere, kry eerder julle wapens slaggereed vir die oorlog!

6. Die Here het my die opdrag gegee om ’n wag uit te sit sodat hy kan rapporteer wat hy sien en hoor.

7. As hy strydwaens en perderuiters met troppe donkies en kamele sien aankom, moet hy hulle fyn dophou.

8. Toe het die wag uitgeroep: “Meneer, ek het dag en nag op my pos in die wagtoring gebly.

9. Kyk, uiteindelik kom daar strydwaens en perderuiters aangery. Skielik skree iemand: Babel het geval, en al die afgode van Babel lê in stukkies op die grond!”

10. O, my volk wat so stukkend getrap lê soos graan wat op die dorsvloer uitgetrap word, alles wat ek vir jou gesê het, is wat ek by die Here die Almagtige, die God van Israel, gehoor het.

11. Die Here se boodskap om Edom se straf aan te kondig: Van Edom af roep iemand na die wag en vra: “Wag, wanneer breek die dag? Wanneer is die nag verby?”

12. Die wag antwoord: “Die môre is amper hier, maar die nag kom weer. As jy weer ’n keer wil kom vra, kom vra gerus.”

13. Die Here se boodskap om Arabië se straf aan te kondig: Julle handelaars van Dedan, gaan kruip weg in die woestyn van Arabië.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 21