Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 19:16-25 Die Boodskap (DB)

16. Daar kom ’n tyd dat die Egiptenaars so swak sal wees soos die swakstes. Hulle sal bewe van angs as hulle sien dat die Here besluit het om teen hulle op te tree en hulle te straf.

17. As iemand net die naam Juda noem, sal hulle angsbevange aan die bewe gaan, want dit sal hulle herinner aan wat die Here die Almagtige se plan met hulle is.

18. In daardie tyd sal daar so baie Israeliete in Egipte wees dat hulle in vyf Egiptiese stede Hebreeus sal praat en hulle sal die Here die Almagtige openlik dien. Een van daardie stede sal Die Stad Waar Reg Geskied genoem word.

19. So sal daar in die hart van Egipte ’n altaar wees waarop daar vir die Here geoffer word. Op die grens sal daar ’n monument wees met sy Naam daarop as ’n herinneringsteken.

20. Hierdie dinge sal die mense van Egipte aan die Here se teenwoordigheid herinner. As sy volk wat in Egipte is, vir die Here hulp vra omdat hulle verdruk word, sal die Here vir hulle iemand stuur om hulle vry te maak en te verlos van die Egiptenaars.

21. Dan sal die Here Homself aan die Egiptenaars bekendmaak. Hulle sal Hom leer ken en Hom aanbid deur vir Hom diereoffers en graanoffers te bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak en dit nakom.

22. Die Here sal die Egiptenaars straf, nie om hulle dood te maak nie, maar om hulle te laat besef wie Hy is. Dan sal hulle tot bekering kom en Hom dien. Hy sal hulle weer gesond maak en hulle gebede verhoor.

23. In daardie tyd sal daar ’n grootpad tussen Egipte en Assirië wees sodat mense uit hierdie lande vrylik heen en weer kan beweeg. Hierdie twee volke sal saam die Here aanbid.

24. Israel sal hulle bondgenoot word en saam sal die drie lande ’n seën vir die res van die wêreld wees.

25. Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is julle, Egipte wat my volk is, geseënd is julle, Assirië wat Ek gemaak het, en geseënd is Israel wat my eiendom is.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 19