Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 19:12-18 Die Boodskap (DB)

12. Waar is jou slim raadgewers dan nou, Farao? As hulle dan werklik so slim is, laat hulle vir jou kom vertel wat die Here die Almagtige se plan met Egipte is.

13. Die sogenaamde leiers van Soan is almal lagwekkend kinderagtig. En dié van Memfis is almal onderduims. Egipte se leiers het hulle land op ’n dwaalspoor gelei.

14. Die Here het hulle verwar. Daarom neem hulle onsinnige besluite. Hulle laat Egipte rondslinger soos ’n dronk mens wat in sy eie braaksel rondgly.

15. Daar is niemand, nie ryk of arm, nie die vooraanstaande mense of dié sonder aansien, wat Egipte meer kan red nie.

16. Daar kom ’n tyd dat die Egiptenaars so swak sal wees soos die swakstes. Hulle sal bewe van angs as hulle sien dat die Here besluit het om teen hulle op te tree en hulle te straf.

17. As iemand net die naam Juda noem, sal hulle angsbevange aan die bewe gaan, want dit sal hulle herinner aan wat die Here die Almagtige se plan met hulle is.

18. In daardie tyd sal daar so baie Israeliete in Egipte wees dat hulle in vyf Egiptiese stede Hebreeus sal praat en hulle sal die Here die Almagtige openlik dien. Een van daardie stede sal Die Stad Waar Reg Geskied genoem word.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 19