Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 19:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Die Here se boodskap om Egipte se straf aan te kondig: Die Here kom op ’n vinnige wolk aangery in die rigting van Egipte. Egipte se afgode bewe en hulle mense is lam van vrees as hulle Hom sien kom.

2. Ek gaan ’n burgeroorlog in Egipte laat uitbreek, sê die Here, die mense sal onder mekaar veg, broer teen broer, vriend teen vriend, een stad teen ’n ander en een koning teen ’n ander.

3. Ek sal die Egiptenaars frustreer, want Ek gaan hulle planne in die wiele ry. Hulle sal raad gaan soek by hulle afgode en towenaars en waarsêers.

4. Maar Ek sal die Egiptenaars oorgee in die mag van ’n wrede koning, sê die Here die Almagtige.

5. Die water van die Nyl sal minder word totdat dit uiteindelik totaal en al opdroog.

6. Die water in die kanale sal stink soos die riete en die biesies begin opdroog en vrot.

7. Die waterplante wat langs die Nyl by die mond van die Nyl groei, sal doodgaan van die droogte. Al die saailande langs die Nyl sal opdroog en die wind sal dit wat oorbly, wegwaai.

8. Die vissers sal oor hulle lot kla. Niemand wat met hoeke of nette in die Nyl visgevang het, sal iets hê om van te lewe nie.

9. Die wewers sal nie vlas of katoen hê om mee te weef of te vleg nie omdat die oeste misluk het.

10. Almal wat met hierdie materiaal werk, sal stomgeslaan wees oor hulle lot.

11. Die leiers van Soan is ’n klomp gekke en die koning van Egipte se raadgewers gee vir hom verspotte raad. Dis ondenkbaar dat hulle die farao probeer wysmaak dat hulle voorouers verstandige mense was.

12. Waar is jou slim raadgewers dan nou, Farao? As hulle dan werklik so slim is, laat hulle vir jou kom vertel wat die Here die Almagtige se plan met Egipte is.

13. Die sogenaamde leiers van Soan is almal lagwekkend kinderagtig. En dié van Memfis is almal onderduims. Egipte se leiers het hulle land op ’n dwaalspoor gelei.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 19