Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 40:8-16 Die Boodskap (DB)

8. Hierdie offisiere en manskappe het na Gedalja toe in Mispa gegaan. Hulle was Ismael die seun van Netanja, Joganan en Jonatan die seuns van Kareag, Seraja die seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka en hulle manskappe.

9. Gedalja het sy woord vir hierdie offisiere en hulle manskappe gegee. Hy het hulle belowe dat niks met hulle sal gebeur as hulle hulle aan die Babiloniërs oorgee nie. Hulle hoef nie bang te wees nie. Hy het gesê: “Bly hier in die land en werk saam met die koning van Babel. Dan sal dit met julle goed gaan.

10. Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs onderhandel wat ons kom besoek. Maar oes julle druiwe, vrugte en olywe en bêre dit in houers. Bly in die stede waarvan julle nou in beheer is.”

11. Die Jode wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder hoor dat hy Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het,

12. het hulle uit al die plekke waarnatoe hulle gevlug het, teruggekom na die land Juda toe. Hulle het eers na Gedalja in Mispa toe gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en vrugte begin insamel.

13. Kort hierna het Joganan die seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe wat in die platteland was, na Gedalja in Mispa gekom.

14. Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael, die seun van Netanja, gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie.

15. Later het Joganan privaat met Gedalja in Mispa gepraat. Hy het aangebied om sonder dat iemand daarvan weet, vir Ismael te gaan doodmaak. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te kom vermoor? As hy dit regkry, sal al die Jode wat teruggekom het omdat u hier is, net weer uitmekaargedryf word. Daar sal ook niks oorbly van die groep mense in Juda wat nie uit die land weggevat is nie.”

16. Maar Gedalja wou hom nie glo nie. Hy het gesê: “Jy mag Ismael nie vermoor nie, want wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 40