Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 35:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Ons bou nie huise om in te bly nie. Verder het ons ook nie wingerde of landerye met graan op nie.

10. Ons bly in tente en ons gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab vir ons gegee het.

11. Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek het, het ons bang geword vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou hier.”

12. Die Here het toe vir Jeremia gesê wat hy moes doen.

13. Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy het gesê: “Gaan na die mense van Juda en Jerusalem toe en sê vir hulle: Leer ’n bietjie ’n les hoe om aan My gehoorsaam te wees.

14. Die Rekabiete drink nie wyn nie omdat hulle voorvader Jonadab gesê het hulle moenie dit doen nie. Ek het al keer op keer met julle gepraat, maar julle bly weier om na My te luister.

15. Ek het al hoeveel keer my profete na julle toe gestuur. Hulle het julle gewaarsku om op te hou om slegte goed te doen. Julle moes julle manier van doen verander en ophou om ander gode te aanbid. As julle dit sou doen, sou julle in rus en vrede in hierdie land kon bly.

16. Ek het die land vir julle en julle voorouers gegee. Maar julle wou nie na My luister om My te gehoorsaam nie.”

17. Daarom sê die Here: “Ek sal al die rampe waarvan Ek gepraat het, oor Juda en Jerusalem bring. Dit sal gebeur omdat julle nie na My wou luister nie. Julle het julle ook nie aan My gesteur toe Ek julle geroep het nie. Julle het geweier om My te antwoord.”

18. Maar vir die Rekabiete het Jeremia gesê: “Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê: Julle het julle voorvader Jonadab gehoorsaam in alles wat hy gevra het. Julle het al sy voorskrifte uitgevoer soos hy van julle verwag het.

19. Omdat julle dit gedoen het, sal daar altyd van die mense wees wat deel is van Jonadab se nageslag wat My sal dien. Dit belowe Ek,” sê die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 35