Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:6-17 Die Boodskap (DB)

6. Jeremia het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen. Hy het die boodskap vir koning Sedekia gegee.

7. In dié stadium was die Babiloniese leërs besig om teen Jerusalem, Lakis en Aseka oorlog te maak. Hierdie stede was die enigste stede van Juda met mure om wat nog nie ingeneem was nie.

8. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit was nadat koning Sedekia ’n ooreenkoms met al die mense in Jerusalem gemaak het om hulle slawe vry te laat.

9. Hy het hulle beveel om al hulle Hebreeuse slawe, mans en vroue, vry te laat. Geen Jood moes meer ’n ander Jood se slaaf wees nie.

10. Die amptenare en al die mense van Juda het aanvanklik gedoen wat die koning beveel het,

11. maar later anders besluit. Hulle het die mans en die vroue wat hulle vry laat gaan het, weer hulle slawe gemaak.

12. Die Here het toe deur Jeremia vir hulle gesê:

13. “Ek, die Here wat die God van Israel is, sê: Lank terug het Ek julle voorouers as slawe in Egipte vrygemaak. Toe het Ek met hulle ’n ooreenkoms gemaak.

14. Ek het hulle opdrag gegee om aan die einde van ses jaar elke Hebreër wat ’n slaaf is, vry te laat. Julle voorouers het dit nooit gedoen nie.

15. “Toe julle onlangs begin besef het dat dit verkeerd is, het julle reg gedoen om My te gehoorsaam. Julle het julle Joodse slawe vrygelaat. In my tempel het julle dit toe met ’n ooreenkoms met My vasgemaak.

16. “Maar nou het julle julle woord gebreek. Julle het My beledig met wat julle doen. Julle kan mos nie nou die mans en die vroue wat julle vry laat gaan het, weer julle slawe maak nie!”

17. Die Here sê: “Julle het nie na My geluister nie. Julle wou nie julle eie mense wat julle slawe was, vry laat gaan nie. Daarom sal Ek julle nou vry laat gaan om slagoffers te wees van oorlog, epidemies en kosskaarste. As die nasies van die wêreld die toestand sien waarin julle is, sal hulle hulle doodskrik.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34