Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Jeremia het ’n brief geskryf terwyl hy in Jerusalem was. Hy het dit gestuur aan die senior leiers, die priesters, die profete en al die mense van Juda wat in Babel was. Koning Nebukadnesar het hulle uit hulle land weggevat Babel toe.

2. Koning Jojagin en die koningin-moeder was toe alreeds as gevangenes uit Jerusalem weggevat. Saam met hulle was ook die amptenare van die koning, die leiers van Juda en al die mense wat goed met hulle hande kon werk. Dit was onder andere ambagsmense en mense wat met yster kon werk.

3. Jeremia het die brief saam met Elasa, wat Safan se seun was, en ook saam met Gemarja, wat Gilkija se seun was, gestuur. Koning Sedekia het hulle Babel toe gestuur om hom by koning Nebukadnesar te verteenwoordig. Jeremia het in sy brief die volgende geskryf:

4. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem uit laat wegvat het na Babel toe:

5. “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom.

6. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Mag hulle vir julle baie kleinkinders gee. Werk daaraan dat julle getalle meer word en nie minder nie.

7. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29