Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 2:1-7 Die Boodskap (DB)

1. “Raas met julle ma. Baklei met haar. Ek gaan van haar skei. Sy moet ophou om agter ander mans aan te loop. Sy moet ophou om My te verkul.

2. As sy nie ophou nie, gaan Ek haar dwing om al haar klere uit te trek sodat almal vir haar kan lag. Ek gaan haar skaam maak. Ek gaan haar poedelkaal laat uittrek soos die dag toe sy gebore is. Ek gaan haar eensaam maak, soos die woestyn. Ek gaan haar maak soos ’n plek in die veld waar niemand kom nie, omdat daar nie water is nie. Ek sal haar laat doodgaan van die dors.

3. Ek sal nie haar kinders liefhê nie. Hulle is nie my kinders nie. Hulle is kinders wat sy by ander mans gehad het.

4. Hulle ma was ’n prostituut. Sy het haar skandelik gedra. Sy het hulle kinders verwag. Sy het gesê: ‘Ek wil agter die mans aangaan wat by my kuier. Hulle gee vir my drank en kos. Ek kry by hulle klere en reukwater.’”

5. “Ek pak doringtakke rondom haar. Ek bou ’n klipmuur rondom haar om haar by die huis te hou.

6. Sy sal agter ander mans wil aangaan. Dit sal haar niks help nie, want sy sal hulle nie in die hande kry nie. Sy sal soek waar hulle is, maar sy sal hulle nie opspoor nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my eie man toe. Dit was beter toe ek by hom was.’

7. Sy het nooit raakgesien dat dit Ek was wat vir haar koring en wyn en olie en geld gegee het om van te leef nie. Selfs die goud wat sy vir die afgod Baäl gegee het, het sy by My gekry.”

Lees volledige hoofstuk Hosea 2