Ou Testament

Nuwe Testament

Hooglied 4:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Hoe mooi is jou liggaam nie, my liefste. Alles is so volkome en volmaak.

8. Liefste, laat ons van die baie gevare af wegvlug. Kom saam met my van die Libanonsberge af, van die Amana se top, van die Senir en die Hermonberg waar die leeus en die tiere bly.

9. Jy het my hart gesteel, my lief. Jou oë se sagtheid en die krale om jou nek het my hart van liefde laat klop.

10. My liefste, hoe kosbaar is jou liefde nie vir my nie. Jou liefde is soveel beter as wyn en jou parfuum geuriger as enige spesery.

11. Jou lippe proe heuningsoet, jou tong smaak soos melk en jou klere ruik na die seders van die Libanon.

12. My liefste, jy is soos ’n tuin met ’n hoë muur om. Jy is ’n fontein waarvan net ek kan drink, ’n put wat net aan my behoort.

13. Jy is soos ’n granaattuin wat blom. Jy is ’n lushof met die allermooiste vrugtebome en die allerheerlikste geure.

14. By jou is daar die allerkosbaarste geure van nardus en saffraan, van kalmoes en kaneel, van mirre en al die ander lekkerruikkruie.

15. Jy is ’n fontein in my tuin. ’n Fontein van lewende water en net so vars soos die strome van die Libanonsberge.

16. Steek op, Noordewind, en kom, Suidewind. Waai deur my liefling se tuin en vul die lug met die allersoetste geure. Dan sal my liefling na sy tuin toe kom en van sy heerlike vrugte eet.

Lees volledige hoofstuk Hooglied 4