Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 7:13-24 Die Boodskap (DB)

13. Daardie selfde dag het Noag en sy vrou asook hulle seuns, Sem, Gam en Jafet, en hulle vroue in die boot ingegaan.

14. Saam met hulle was daar van elke spesie wilde diere en vee; elke soort dier wat op die aarde rondkruip, elke soort voël, ja, alles wat vlerke het.

15. Een paar van alles wat leef, het saam met Noag in die ark geklim.

16. Dit was die mannetjies en wyfies van alle denkbare soorte diere wat in die ark was, presies net soos die Here vir Noag gesê het.

17. Toe almal binne was, het die Here gekom en self die ark se deur agter hulle toegesluit.

18. Massas water het op die aarde neergestort, 40 dae aanmekaar. Soos die water meer en meer geword het, het dit die ark stadig maar seker begin oplig totdat dit naderhand gedryf het.

19. Die watervlak het elke dag gestyg. Die ark het op die water begin vaar. Naderhand was daar soveel water op die aarde dat die hoogste bergspitse oorstroom was.

20. Die water het meer as sewe meter bokant die hoogste pieke gevloei.

21. Alles op aarde is uitgewis: voëls, vee en wilde diere, asook alle kruipende diere, ook al die mense.

22. Alles wat op die aarde asemgehaal het, is uitgewis.

23. Alles en almal is deur die water van die aarde af weggevee. Net Noag het oorgebly saam met dié wat by hom in die ark was.

24. Vir 150 dae lank het die watermassa oor die hele aarde gespoel.

Lees volledige hoofstuk Genesis 7