Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 7:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Toe alles klaar was, het die Here vir Noag gesê: “Klim in die ark in en vat jou gesin saam. Van almal op aarde het jy die naaste aan My geleef.

2. Vat ook van elke rein dier sewe pare saam met jou in die ark in, ’n mannetjie en ’n wyfie. Van al die onrein diere hoef jy net een paar elk, ’n mannetjie en ’n wyfie, saam te vat.

3. Van al die voëls wat in die lug rondvlieg, moet jy ook sewe pare saamvat, ’n mannetjie en ’n wyfie. So kan al die voëlsoorte voortbestaan.

4. Binne sewe dae stuur Ek reën. Dit sal 40 dae en 40 nagte aanmekaar reën. So sal Ek alles wat Ek gemaak het, van die aarde af vernietig.”

5. Noag het presies gedoen wat die Here vir hom gesê het.

6. Hy was 600 jaar oud toe die massas water die aarde begin oorstroom het.

7. Toe die water begin opstoot, het Noag saam met sy vrou, sy seuns en hulle vroue in die ark geklim.

8. Die mannetjies en wyfies van alle rein en onrein diere, van elke soort voël en van alle kruipende diere is saam met Noag in die ark in.

9. Hulle het twee-twee die ark ingestap, net soos die Here vir hom gesê het.

10. Sewe dae later het die water van die vloed oor die aarde gespoel.

11. In Noag se 600ste jaar, in die tweede maand, presies op die sewentiende dag van daardie maand, het alles begin. Al die fonteine onder die aarde het oopgebars, die hemele se sluise het oopgebreek en die watermassas het neergestort.

12. Dit het 40 dae en nagte so aangehou. Geweldige swaar reën het die aarde dag en nag geteister.

Lees volledige hoofstuk Genesis 7