Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 50:15-26 Die Boodskap (DB)

15. Hulle besluit toe om ’n boodskap vir Josef te stuur.

16. “Voor sy dood,” so het die boodskap begin, “het Pa gesê ons moet die saak met jou regmaak.

17. Soos jy weet, staan ons voor jou en Pa se God skuldig. Maar nou, Josef, vra ons jou mooi om ons daardie dag se verskriklike daad te vergewe.” Josef het begin huil toe hy die boodskap hoor.

18. Die broers is self na Josef toe en het laag voor hom gebuig en vir hom gesê: “Hier is ons. Ons sal jou slawe wees.”

19. Josef het gesê: “Moet tog nie bang wees nie. Ek is mos nie God nie.

20. Julle het ’n vreeslike ding gedoen, maar God het die slegte ding in iets goeds verander. Baie mense leef vandag en het kos omdat julle my daardie dag verkoop het.

21. Julle hoef regtig niks te vrees nie. Tot die einde toe sal ek vir julle en julle kinders sorg.” Josef se woorde was vol deernis en sy liefde teenoor sy broers het hulle getroos en bemoedig.

22. Josef en sy familie het in Egipte bly woon. Hy was 110 jaar oud toe hy dood is.

23. Hy het lank genoeg geleef om Efraim se kinders en sy kleinkinders te sien grootword. En terwyl hy nog geleef het, is al die kinders van Manasse se seun, Magir, gebore.

24. Toe hy die dood voel nader kom, het Josef vir sy broers gesê: “Binnekort is ek nie meer hier nie, maar moenie bang wees nie, want God sal self vir julle sorg. Eendag sal Hy julle nog uit hierdie land lei en na die land toe neem wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het.”

25. Toe het Josef vir sy broers iets groots gevra. “Belowe my,” so het hy begin, “dat julle my liggaam sal saamvat wanneer God julle uit hierdie land uitlei.”

26. So het Josef dan in Egipte gewoon en gesterf toe hy 110 jaar oud was. Hulle het sy liggaam gebalsem en in ’n kis gesit.

Lees volledige hoofstuk Genesis 50