Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 48:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Na ’n ruk het hulle vir Josef kom sê dat sy pa baie siek is. Josef is dadelik soontoe. Hy het ook sy twee seuns, Manasse en Efraim, saamgeneem.

2. Toe hulle vir Jakob sê dat Josef-hulle daar is, was Jakob so bly dat hy sommer sterk gevoel en regop in die bed gesit het.

3. Jakob het weer vir Josef sy lewensverhaal vertel. “Lank gelede,” so het Jakob begin, “het die almagtige God na my toe gekom in Lus (dit is Bet-El), in die land Kanaän. Daar het Hy my geseën en wonderlike dinge vir my gesê.

4. Hy het beloof dat ek ’n groot nageslag sal hê en dat hulle uit verskillende volke sal bestaan. Verder het Hy gesê dat my nageslag nog eendag in die land Kanaän sal woon en dat hulle die land vir altyd sal besit.

5. Hierdie twee seuns van jou, Efraim en Manasse, wat in Egipte gebore is lank voordat ek hier aangekom het, sal soos my eie kinders wees. Net soos Ruben en Simeon my eie kinders is, sal jou twee seuns ook myne wees.

6. Jou seuns wat na hulle twee gebore is, sal joune wees en hulle sal deel van Efraim en Manasse se stamme wees en in hulle erfenis deel.

7. Ek sal jou twee seuns seën ter wille van jou ma, Ragel. Sy is destyds op pad van Paddan-Aram af na Kanaän toe dood, tot my groot verdriet. Net duskant Efrata (wat ons vandag Betlehem noem) is sy dood en ek het haar daar langs die pad begrawe.”

8. Jakob het dofweg twee seuns langs Josef gesien en gevra: “Wie is die seuns daar langs jou?”

9. Josef het geantwoord: “Dis die seuns wat God vir my hier in Egipte gegee het.”En Jakob het gesê: “Bring hulle nader dat ek hulle kan seën.”

10. As gevolg van sy hoë ouderdom was Jakob se oë baie swak en kon hy skaars sien. Josef het toe die seuns nader gebring en Jakob het hulle omhels en gesoen.

11. Jakob het vir Josef gesê: “Ai, Josef, ek het nooit gedink dat ek jou ooit weer sou sien nie, en nou sien ek ook jou twee seuns.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 48