Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 45:15-23 Die Boodskap (DB)

15. Toe het hy al sy broers omhels en hulle gesoen. Josef was baie bewoë. Die broers het tot verhaal gekom en met Josef begin praat.

16. Gou het die goeie nuus van Josef se broers versprei en die farao het dit ook gehoor. Hy en al sy mense was baie bly daaroor.

17. Die farao het Josef toe laat kom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou broers sê hulle moet die diere pak en reguit Kanaän toe gaan.

18. Hulle moet jou pa en hulle families vat en sonder versuim na Egipte toe terugkom. Ek sal hulle die beste deel van die land gee. Daar kan hulle lekker bly en daar sal altyd volop kos vir almal wees.”

19. Die farao het voortgegaan: “Jou broers moet ook van ons Egiptiese waens saamneem sodat hulle die vroue en kinders daarop kan laai. Jou pa moet hulle ook op ’n wa sit en dan gou terugkom.

20. Al hulle besittings kan hulle maar daar los, want die beste van Egipte wag hier vir hulle.”

21. Die broers het toe gemaak soos die farao gesê het. Josef het hulle die Egiptiese waens gegee asook genoeg kos vir die pad.

22. Vir elke broer het Josef ook nuwe klere gegee. Benjamin het meer gekry. Josef het vir hom 300 stukke silwer gegee asook vyf pakke nuwe klere.

23. En vir sy pa het Josef sommer ’n klomp goed gestuur: tien swaargelaaide donkies met die allermooiste goed uit Egipte. Op tien donkiemerries was daar genoeg graan, brood en ander kos vir sy pa se reis na Egipte.

Lees volledige hoofstuk Genesis 45