Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 45:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Josef kon dit nie meer langer hou nie en het vir die ander gesê om uit te gaan. Niemand anders was by nie toe Josef begin praat.

2. Na ’n paar woorde het hy in trane uitgebars. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het. Selfs die mense in die farao se huis het dit gehoor.

3. Na ’n ruk het hy weer probeer: “Ek is Josef! Leef Pa werklik nog en is dit waar dat hy nog gesond is?” Sy broers was totaal en al stomgeslaan.

4. “Kom ’n bietjie nader,” het hy vir hulle gesê. Stadig en bang het hulle nader geskuifel. Toe het hy weer gepraat: “Ek is julle broer Josef. Julle onthou nog die dag toe julle my verkoop het?

5. Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help.

6. Twee verskriklike jare van hongersnood is al verby en vyf moeilike jare lê nog voor. Niemand sal op die lande werk nie en daar sal ook geen oes wees nie.

7. God het my solank Egipte toe gestuur sodat ek vir julle kos kon bêre. So kon julle en ook Pa eet en bly leef. Hoe wonderlik werk die Here tog nie!

8. My broers, dit is nie julle wat my hierheen laat kom het nie, maar God. Hy het my Egipte toe laat kom om vir die farao amper soos ’n pa te wees. Hy het my toe die hoof van sy hele administrasie gemaak en my oor die hele land laat regeer.

9. Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: U seun Josef sê: Pa, ek leef nog! God het my oor die hele Egipte aangestel en ek wil hê Pa moet onmiddellik na my toe kom.

10. Ek wil hê Pa moet sommer hier naby my by ’n plek wat ons Gosen noem, kom bly. Al Pa se kinders en kleinkinders moet saamkom. En bring ook al die vee en alles wat Pa besit saam.

11. Hierdie hongersnood het nog skaars begin en dit sal nog vyf jaar aanhou, maar ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’

Lees volledige hoofstuk Genesis 45