Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:6-13 Die Boodskap (DB)

6. Josef het die land regeer en almal se porsies vir hulle afgemeet. Toe sy broers by hom kom, het hulle laag voor hom gebuig.

7. Hy het hulle onmiddellik herken. Hy het egter gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kortaf vir hulle gevra: “Waar kom julle vandaan?” “Ons kom van Kanaän af, Meneer, en ons het gekom om kos te koop,” het hulle geantwoord. Hulle het hom egter nie herken nie.

8. Terwyl Josef voor sy broers gestaan het, het hy aan die drome teruggedink,

9. die drome wat hy lank gelede oor hom en sy broers gehad het. En hy het weer met hulle gepraat: “Julle is net spioene wat kom kyk het waar julle die land kan binneval.”

10. “Nee, Meneer, dit is nie so nie. Ons het regtig net kom kos koop.

11. Ons is almal die seuns van een man en ons bedoelings is goed, Meneer. Ons is regtig nie spioene nie.”

12. Josef het weer gepraat: “Ek glo julle nie. Julle het net gekom om te kyk waar die land oop en swak is.”

13. Hulle het weer probeer: “Meneer, kyk na ons. Ons is tog nie spioene nie. Ons is broers. Ons was eers twaalf en almal van dieselfde pa. Hy bly nou nog daar anderkant in Kanaän. Die jongste broer het agtergebly, want hy moes ons pa oppas. En die ander seun, nouja Meneer, ons weet nie meer waar hy is nie.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 42