Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:44-57 Die Boodskap (DB)

44. Die farao het verder vir Josef gesê: “Alhoewel ek die farao is, sal niemand in hierdie land ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou toestemming nie.”

45. Die farao het vir Josef ’n ander naam gegee en hom Safenat-Paneag begin noem. Hy het hom ook ’n vrou gegee en haar naam was Asenat. Sy was die dogter van Potifera, die priester van On. Josef het deur die hele Egipte gereis.

46. Hy was 30 jaar oud toe die farao van Egipte hom oor die land aangestel het. Hy het die farao gegroet en met ’n lang reis deur die hele Egipte begin.

47. Gedurende die eerste sewe goeie jare was daar ’n enorme oorvloed kos in die land.

48. Josef het egter presies geweet wat om met die ryk oeste te doen. Met groot kundigheid het hy die kos in stede gestoor. In elke stad is die oeste van die omgewing opgeberg.

49. Josef het massas koring opgegaar. Dit was naderhand so ontelbaar soos die sand van die see. Josef het later opgehou om van alles boek te hou, want dit was onmoontlik.

50. Voor die swaar jare gekom het, het Josef twee seuns gekry. Dit was die seuns wat Asenat, die dogter van Potifera, die priester van On, vir hom in die wêreld gebring het.

51. Josef het die oudste Manasse genoem, want, het hy gesê, “God het my al die swaarkry in Egipte asook my ouerhuis laat vergeet”.

52. Die tweede seun het hy Efraim genoem, want, het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”.

53. Egipte se sewe goeie jare het verbygegaan.

54. Toe het sewe moeilike jare gevolg, net soos Josef gesê het. In al die lande was daar hongersnood, maar in Egipte het die mense kos gehad.

55. Telkens wanneer die honger Egipte se mense gepak het, het hulle by die farao kos gaan vra. Dan het hy vir hulle gesê: “Gaan na Josef toe en doen presies wat hy vir julle sê.”

56. Toe die hongersnood op sy ergste was en daar omtrent geen kos in die land meer was nie, het Josef die groot voorraadkamers oopgemaak en vir elke Egiptenaar sy deel afgemeet. Die hongersnood het dag vir dag vererger.

57. Van oor die hele wêreld het mense kos by Josef kom koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood het die hele wêreld in sy greep gehad.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41