Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 40:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Na ’n lang tyd in die tronk het die koning van Egipte se hoofskinker en hoofbakker een nag albei ’n droom gehad. Hulle het egter nie geweet wat dit beteken nie.

6. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, sien hy hulle is mismoedig.

7. Hy het toe vir hulle gevra: “Waarom lyk julle vandag so moedeloos?”

8. Hulle het hom geantwoord: “Ons al twee het gedroom, maar hier is niemand wat ons drome kan uitlê nie.”Josef het vir hulle gesê: “Net God kan ’n mens help om drome uit te lê. Vertel my wat julle gedroom het.”

9. Eers het die hoofskinker sy droom vertel. “In my droom,” het hy gesê, “het daar ’n wingerdstok voor my gestaan.

10. Aan die wingerdstok was daar drie ranke. Elke rank het skaars uitgeloop of dit staan in volle bloei en na ’n ruk het daar ryp trosse druiwe gehang.

11. Terwyl ek dan met die een hand die farao se beker vashou, het ek met die ander hand die ryp druiwe in die beker uitgedruk en dit vir die farao gegee.”

12. Josef het toe gesê: “Dit is wat jou droom beteken. Die drie ranke dui op drie dae.

13. Oor drie dae sal die koning jou alles vergewe en jy sal jou ou pos terugkry. Dan sal jy weer soos vroeër die beker vir die farao gee. Presies soos in die dae toe jy die hoofskinker was.”

14. Josef het toe die hoofskinker ’n groot guns gevra: “As dit later weer met jou goed gaan en jy onthou my dalk nog, sal ek bly wees as jy vir my ’n goeie woordjie by die farao sal doen.

15. Ek wil so graag uit hierdie plek kom, want ek hoort nie hier nie. Hulle het my met geweld uit my pa se land geneem en my hierheen gebring. Ek het niks verkeerds gedoen nie en ek verdien nie hierdie donker gat nie.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 40