Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 4:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Adam het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het ’n kind verwag. Haar eerste kind was ’n seun en sy het hom Kain genoem. Sy het trots gesê: “Met die Here se hulp het ek ’n man in die lewe gebring.”

2. Haar tweede kind was ook ’n seun en sy het hom Abel genoem. Abel was ’n herder wat skape aangehou het. Kain was ’n boer wat die aarde bewerk het.

3. Op ’n dag het Kain ’n offer vir die Here gebring. Hy het van die produkte van die land geneem en dit vir die Here geoffer.

4. Abel het dieselfde gedoen. Hy het van die lammers gevat en hulle vet vir die Here geoffer. Die Here het baie van Abel se offer gehou.

5. Maar Hy het nie Kain en sy offer aanvaar nie. Kain was woedend hieroor. Hy het moedeloos geraak.

6. Die Here het toe vir Kain gesê: “Hoekom is jy so kwaad en terneergedruk?

7. As jy reg lewe, sal jou offer mos aanvaar word. Maar as jy nie reg lewe nie, vind jy uit dat sonde soos ’n wilde dier is wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet. Jy kan hom egter oorwin.”

8. Kain het toe vir sy broer, Abel, gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle buite kom, het Kain vir Abel gegryp en hom doodgeslaan.

9. Die Here het vir Kain gevra: “Waar is jou broer Abel?” Kain het vererg geantwoord: “Hoe moet ek nou weet? Is ek dan my broer se oppasser? Moet ek hom dag en nag oppas?”

10. En die Here het gesê: “Wat het jy in hemelsnaam aangevang? Luister net ’n bietjie hoe skreeu jou broer se bloed. Dit roep van die bloedbevlekte aarde af na My.

11. Jy word nou summier van die grond verban. Jy sal nooit weer van die grond kan leef nie, want jy het die grond gedwing om jou broer se bloed te drink; die bloed van jou broer wat jy doodgemaak het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 4