Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:22-34 Die Boodskap (DB)

22. “Moet tog nie dat sy bloed vloei nie,” het hy gepleit. “Gooi hom eerder in ’n put êrens in die woestyn, maar moet net nie die kind doodmaak nie.” Ruben het dit gesê omdat hy ander planne gehad het. Hy sou Josef uit die put red en hom na sy pa toe terugneem.

23. Toe Josef uiteindelik by hulle aankom, het hulle hom begin rondpluk en sy klere afgeruk. Dit was die klere wat sy pa nog vir hom laat maak het, dié met die lang moue en die baie kleure.

24. Toe het hulle Josef gegryp en hom met geweld in die put gegooi. Gelukkig was die put leeg en Josef het op droë grond geval.

25. Daarna het die broers gaan eet. Hulle het net begin toe hulle ’n stofwolk in die verte sien. Dit was ’n groep Ismaeliete wat van Gilead na Egipte op pad was. Daar was troppe kamele, swaar gelaai met gom, balsem en hars wat hulle in Egipte wou verkoop.

26. Juda het toe opgespring en vir sy broers gesê: “Dit gaan ons tog niks in die sak bring as ons Josef doodmaak en hom in die sand begrawe nie.

27. Ek het ’n baie beter plan. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete, dan hoef ons hom nie dood te maak nie. Hy is darem nog ons broer, ons eie bloed.” Die ander het saamgestem.

28. Intussen was die Ismaeliete met hulle kamele al baie naby en die broers het Josef vinnig uit die put opgetrek. Hulle het Josef toe vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop. Josef is saam met hulle Egipte toe.

29. Ruben het van niks geweet nie, want hy was weg. Toe hy terugkom, is hy reguit na die put toe om Josef uit te haal, maar Josef was reeds weg. Ruben het hartseer geword en sy klere begin skeur.

30. Hy het na sy broers toe gehardloop en uitgeroep: “Die seun is weg! Wat moet ek nou vir sy pa sê?”

31. Hulle het toe ’n boklam geslag en Josef se klere gevat en dit daarin gedoop.

32. Toe het die broers die kleed met die baie kleure en lang moue na hulle pa toe geneem en vir hom gesê: “Pa, ons het dit gekry. Kyk mooi of dit nie dalk Josef se klere is nie.”

33. Hy het dit onmiddellik herken en gesê: “Dit is werklik Josef se klere dié. ’n Wilde dier moes hom aangeval en verskeur het. Josef is uitmekaargeskeur!”

34. Jakob het toe opgestaan, sy klere begin skeur en ’n sak om hom gedraai. Hy was baie hartseer oor Josef se dood en het lank oor hom gerou.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37