Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Toe Josef sewentien was, het hy saam met sy broers, sy pa se seuns by Bilha en Silpa, skape opgepas. Josef het elke dag by sy pa oor sy broers loop en skinder.

3. Jakob was baie liewer vir Josef as vir al sy ander seuns. Josef was die kind wat op sy oudag gebore is en Jakob het hom liefgehad. Hy het toe vir Josef ’n kleed met lang moue en baie kleure laat maak.

4. Al die ander broers het gesien hulle pa was liewer vir Josef as vir hulle. En hulle het Josef begin haat, so erg dat hulle kortaf en onbeskof met hom was.

5. Op ’n dag het Josef ’n droom gehad en sy broers daarvan vertel. Dit het hulle so kwaad gemaak dat hulle hom nog meer gehaat het.

6. Hy het vir hulle gesê: “Luister, ek wil julle van my droom vertel.

7. Ons was almal in die veld besig om gerwe koring vas te bind. Skielik staan my gerf regop. Julle gerwe het ook regop gestaan en in ’n kring rondom my gerf kom staan. En daar buig julle gerwe toe voor my gerf.”

8. Die broers was woedend en het vir hom gevra: “Mannetjie, wil jy nou oor ons regeer? Wil jy ons baas word?” Die broers het Josef nog meer gehaat oor al sy droompraatjies.

9. Josef het nog ’n droom gehad en het dit sowaar weer vir sy broers loop en vertel. “Hoor hier,” het hy gesê, “ek wil julle van ’n ander droom vertel. Hierdie keer was dit die son, die maan en elf sterre wat gekom en voor my gebuig het.”

10. Opgewonde het Josef ook vir sy pa van die droom gaan vertel. Sy pa het hom egter kortgevat: “Watse dromery is dit met jou? Wat beteken al jou drome? Dink jy nou regtig ek en jou ma en al jou broers moet voor jou kom buig?”

11. Al die broers was jaloers op Josef. Sy pa het sy woorde onthou en dikwels daaraan gedink.

12. Op ’n dag het sy pa hom geroep. Dit was in die tyd toe sy broers die kuddes in die omgewing van Sigem laat wei het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37