Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:18-26 Die Boodskap (DB)

18. Hulle het hom al van ver af sien aankom. Voordat Josef nog by hulle was, het hulle klaar besluit om hom dood te maak.

19. Hulle het vir mekaar gesê: “Dit is mos die ou dromer wat hier aangestap kom.

20. Hoekom maak ons nie die ou windlawaai dood en gooi sy liggaam in een van die putte nie? Ons kan sê die een of ander wilde dier het hom gevang en uitmekaargeskeur. Dan sal ons sien wat van al sy droompraatjies gaan word.”

21. Toe Ruben hiervan hoor, het hy Josef probeer red. “Moet hom tog nie doodmaak nie,” het hy vir sy broers gesê.

22. “Moet tog nie dat sy bloed vloei nie,” het hy gepleit. “Gooi hom eerder in ’n put êrens in die woestyn, maar moet net nie die kind doodmaak nie.” Ruben het dit gesê omdat hy ander planne gehad het. Hy sou Josef uit die put red en hom na sy pa toe terugneem.

23. Toe Josef uiteindelik by hulle aankom, het hulle hom begin rondpluk en sy klere afgeruk. Dit was die klere wat sy pa nog vir hom laat maak het, dié met die lang moue en die baie kleure.

24. Toe het hulle Josef gegryp en hom met geweld in die put gegooi. Gelukkig was die put leeg en Josef het op droë grond geval.

25. Daarna het die broers gaan eet. Hulle het net begin toe hulle ’n stofwolk in die verte sien. Dit was ’n groep Ismaeliete wat van Gilead na Egipte op pad was. Daar was troppe kamele, swaar gelaai met gom, balsem en hars wat hulle in Egipte wou verkoop.

26. Juda het toe opgespring en vir sy broers gesê: “Dit gaan ons tog niks in die sak bring as ons Josef doodmaak en hom in die sand begrawe nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37