Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 35:8-17 Die Boodskap (DB)

8. Intussen is Debora dood. Rebekka het as kind aan haar gedrink en sy was lewenslank aan Debora geheg. Hulle het Debora onder die groot eikeboom net buite Bet-El begrawe. Hulle het die boom Eik van Trane genoem.

9. En God het weer met Jakob gepraat, net soos destyds toe hy vir sy broer gevlug het.

10. Hy het hom geseën en vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar jy sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal almal jou Israel noem.” Dis waar hy aan sy naam gekom het.

11. God het verder gesê: “Ek is die God wat sterk is. Jou kinders moet vrugbaar wees en baie kinders hê. ’n Nasie, nee, sommer ’n klomp nasies, sal uit jou en jou kinders groei. Belangrike konings sal nog uit jou en jou nageslag kom.

12. Hierdie land wat Ek lank gelede aan Abraham en Isak beloof het, gee Ek nou aan jou en jou kinders. Jou nageslag sal nog in hierdie land woon.”

13. Skielik was God weg. Toe Hy klaar met Jakob op daardie plek gepraat het, was Hy net weg.

14. Op dieselfde plek waar God met hom gepraat het, het Jakob toe ’n klipstapel gepak. Hy het ’n offer van water en wyn daaroor uitgegooi. Hy het ook olie oor al die klippe gegooi.

15. Jakob het die plek Bet-El genoem omdat God daar met hom gepraat het.

16. Jakob en sy mense is weer weg van Bet-El af. Terwyl hulle eendag getrek het, het Ragel, wat verwagtend was, skielik geweldige pyn gehad. Hulle was nog ’n hele entjie van Efrata af toe dit so erg geword het dat Ragel begin kraam het.

17. Toe die geboortepyne op hulle ergste was, het die vroedvrou vir Ragel gesê: “Mevrou, moenie meer bang wees nie, want dit is ’n seuntjie.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 35