Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 34:21-31 Die Boodskap (DB)

21. Hulle het gesê: “Broers, hierdie Jakobgroep is oulike mense. Laat hulle tog toe om onder ons te kom woon en te gaan waar hulle wil. Daar is tog genoeg plek vir ons almal in die land. Ons kan selfs met hulle dogters trou en hulle met ons jongmeisies.

22. Daar is egter ’n voorwaarde voor ons een volk kan word. Ons moet soos hulle word en ons almal laat besny. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat. Dan gaan hulle nie by ons bly nie en ons gaan nie een groot groep word nie.

23. Dink net daaraan, hulle beeste, hulle veetroppe en al hulle besittings word ook ons s’n. Kom ons gee toe sodat hulle hier by ons kan kom bly.”

24. Die dorpsraad het met Hamor en Sigem saamgestem en elke man in die dorp is besny.

25. Op die derde dag het al die mans nog baie pyn gehad. Dina se twee broers, Simeon en Levi, het toe ’n verskriklike ding gedoen. Hulle het die dorp binnegery en op ’n gegewe oomblik het hulle die swaarde uitgeruk en al die mans in die dorp voor die voet uitgewis.

26. Selfs Hamor en Sigem is doodgemaak. By Sigem se huis het hulle vinnig hulle suster, Dina, gaan haal en uit die dorp gejaag.

27. Toe Jakob se ander seuns hiervan hoor, was hulle vuur en vlam. Hulle het die stad binnegejaag en net dooies sien rondlê. Toe het hulle die stad genadeloos begin plunder. Hulle verskoning was dat Sigem vir Dina verkrag het.

28. Hulle het net mooi alles gevat, alles wat in die stad was asook buite in die veld. Al die mense se kleinvee, beeste, donkies en besittings.

29. Selfs vroue en kinders is geroof en as gevangenes saamgeneem. Alles wat in die huise was, het Jakob se kinders vir hulleself gevat.

30. Jakob was baie ontsteld oor alles. Vir Simeon en Levi het hy reguit gesê: “Julle het my in die allergrootste ellende gedompel. Almal in hierdie land, veral die Kanaäniete en die Feresiete, sal my nou haat. Ons is maar ’n klein klompie mense en as hulle saamstaan, is dit klaarpraat met ons.”

31. Maar die kinders het weereens hulle swak verskoning herhaal: “Maar, Pa, hy het dan ons suster soos ’n slet behandel.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 34