Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 33:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Esau het gesê: “Ek gaan saam met julle. So, kom ons ry.”

13. Jakob het geantwoord: “Soos jy kan sien, is die kinders klein en swak. En die veetroppe met kalwers en lammers beweeg stadig, want hulle is swak. As ons hulle nou gaan dryf, selfs net vir ’n dag lank, gaan hulle vrek.”

14. Jakob het verder gepraat: “Miskien moet jy maar solank vooruitry. Ek kom dan rustig met die vee en die kinders agterna en kort voor lank is ek by jou in Seïr.”

15. Esau het gesê: “Goed, maar ek los ’n klompie manne hier by jou. Hulle kan jou met alles help.”Jakob het geantwoord: “Ag, Esau, baie dankie, maar dit is werklik nie nodig nie.”

16. Esau het toe sy broer gegroet, omgedraai en na Seïr teruggegaan.

17. Jakob het tot so ver as Sukkot gekom. Daar het hy ’n huis en stalle vir sy vee gebou. Dis hoekom hulle die plek Sukkot genoem het, wat “Takskerm” beteken.

18. Van hier af het Jakob later Sigem toe getrek. Jakob-hulle het ’n ver pad gestap, van Paddan-Aram in die noorde af tot by Sigem in Kanaän. Gelukkig het alles goed verloop.

19. Hulle het eers voor Sigem gestaan, maar later het Jakob die grond gekoop waarop hulle gekamp het. Dit het aan Hamor en sy kinders behoort en Jakob het hulle 100 geldstukke daarvoor betaal. Hamor het ’n seun gehad met die naam Sigem.

20. Jakob het ’n altaar gebou en dit genoem: “God is waarlik die God van Israel.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 33