Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:38-50 Die Boodskap (DB)

38. Jakob het voortgegaan: “Twintig lange jare het ek jou getrou gedien. Nooit het jou skaapooie of bokooie hulle lammers verloor nie. Nooit het ek ’n ram gesteel en dit geëet nie.

39. As wilde diere jou diere verskeur het, het ek jou nie eens daarvan vertel nie. Jy het my altyd dubbel en dwars daarvoor laat betaal, of hulle bedags of snags gesteel is. Daarom het ek maar self die dier vervang.

40. Bedags het die verskriklike hitte my geteister en in die nag die koue. So erg was dit dat ek vir lang tye nie kon slaap nie.

41. Twintig jaar het ek vir jou gewerk. Veertien jaar vir jou twee dogters en vir baie jare het ek jou vee opgepas. En wat het jy gedoen? Jy het my salaris aanmekaar verander.

42. As dit nie vir my pa se God, die God van my oupa Abraham en die Beskermer van my pa, Isak, was nie, het ek vandag niks gehad nie. Maar God ken my swaarkry en het my harde werk raakgesien, en daarom het Hy jou gisteraand gewaarsku.”

43. Laban het Jakob toe geantwoord: “Wat praat jy tog? Alles wat jy sien, is myne. Die dogters, die kinders, die vee. Niks maak egter nou meer saak nie. Wat kan ek tog doen of sê wat die dogters of hulle kinders van plan sal laat verander?

44. Jakob,” het Laban gesê, “kom ons maak ’n ooreenkoms. Net tussen my en jou. As ’n herinnering aan ons twee se jare saam.”

45. Jakob het toe ’n klip gevat en dit regop gesit.

46. Hy het sy mense nader geroep en gesê hulle moet ’n klipstapel maak. Toe dit klaar was, het hulle by die klipstapel geëet.

47. Laban het die klipstapel Jegar-Sahaduta en Jakob het dit Galed genoem.

48. “Van vandag af,” het Laban gesê, “is hierdie hoop klippe ’n teken van ons ooreenkoms.” Hy het dit toe ook Galed genoem.

49. Laban het die klipstapel ook nog Mispa genoem. “Dit is ’n teken dat die Here by ons is al sien ons mekaar nie weer nie,” het hy gesê.

50. By die klipstapel het Laban ook vir Jakob gesê: “As jy ooit my dogters sleg behandel of sommer ander vroue byneem, moet jy nie dink God sien dit nie. Hy weet van alles.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 31