Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:32-46 Die Boodskap (DB)

32. Maar van jou huisgodjies weet ek werklik niks nie. Deursoek ons goed voor almal hier en as jy dit by iemand kry, sal die persoon doodgemaak word. As jy ook enigiets anders kry wat joune is, kan jy dit terugvat.” Jakob het egter nie geweet dat Ragel die huisgodjies geneem het nie.

33. Laban het by Jakob se tent begin en daarna in Lea se tent gaan soek. Hy het ook die tente van Bilha en Silpa deursoek, maar niks gekry nie. Daarna het hy na Ragel se tent toe gestap.

34. Sy het intussen die huisgodjies in die kameel se saalsak weggesteek en daar bo-op gaan sit. Laban het die hele tent gefynkam, maar niks gekry nie.

35. Ragel het vir Laban gesê: “Pa moet tog nie vir my kwaad wees omdat ek bly sit nie. Dit is weer daardie tyd van die maand en ek kan nie opstaan nie.” Laban het verder gesoek, maar niks gekry nie.

36. Jakob het kwaad geword en Laban trompop geloop: “Wat het ek verkeerd gedoen? Vir wat agtervolg jy my so? Waar het ek oortree?

37. Jy het al my goed deursoek en wat het jy gekry? Kon jy enige gesteelde goed kry? Kom sit dit dan hier voor my en jou mense neer. Laat hulle dan besluit of ek ’n dief is of nie.”

38. Jakob het voortgegaan: “Twintig lange jare het ek jou getrou gedien. Nooit het jou skaapooie of bokooie hulle lammers verloor nie. Nooit het ek ’n ram gesteel en dit geëet nie.

39. As wilde diere jou diere verskeur het, het ek jou nie eens daarvan vertel nie. Jy het my altyd dubbel en dwars daarvoor laat betaal, of hulle bedags of snags gesteel is. Daarom het ek maar self die dier vervang.

40. Bedags het die verskriklike hitte my geteister en in die nag die koue. So erg was dit dat ek vir lang tye nie kon slaap nie.

41. Twintig jaar het ek vir jou gewerk. Veertien jaar vir jou twee dogters en vir baie jare het ek jou vee opgepas. En wat het jy gedoen? Jy het my salaris aanmekaar verander.

42. As dit nie vir my pa se God, die God van my oupa Abraham en die Beskermer van my pa, Isak, was nie, het ek vandag niks gehad nie. Maar God ken my swaarkry en het my harde werk raakgesien, en daarom het Hy jou gisteraand gewaarsku.”

43. Laban het Jakob toe geantwoord: “Wat praat jy tog? Alles wat jy sien, is myne. Die dogters, die kinders, die vee. Niks maak egter nou meer saak nie. Wat kan ek tog doen of sê wat die dogters of hulle kinders van plan sal laat verander?

44. Jakob,” het Laban gesê, “kom ons maak ’n ooreenkoms. Net tussen my en jou. As ’n herinnering aan ons twee se jare saam.”

45. Jakob het toe ’n klip gevat en dit regop gesit.

46. Hy het sy mense nader geroep en gesê hulle moet ’n klipstapel maak. Toe dit klaar was, het hulle by die klipstapel geëet.

Lees volledige hoofstuk Genesis 31