Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 3:4-19 Die Boodskap (DB)

4. Die slang het egter gesê: “Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie.

5. God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en sal julle soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.”

6. Die vrou begin toe twyfel. Sy kyk na die boom en sien hoe mooi dit is en hoe lekker die vrugte lyk. As sy daarvan eet, sou sy baie dinge te wete kom. Versigtig steek sy toe haar hand na die vrug uit. Sy pluk dit en begin eet. Sy pluk nog een en gee dit vir haar man. Hy het dit ook geëet.

7. Skielik het hulle oë oopgegaan. Vir die eerste keer ontdek hulle hulle is kaal. Skaam-skaam gryp hulle toe ’n paar vyeblare, werk dit aan mekaar vas en maak vir hulle klere.

8. Teen sononder se kant het die Here God in die tuin rondgeloop. Toe hulle Hom hoor, het hulle bang geword en tussen die bome vir Hom gaan wegkruip.

9. Die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?”

10. Die mens het verleë geantwoord: “Hier is ek. Toe ek hoor U is hier het ek bang geword, want ek is mos kaal. Toe het ek weggekruip.”

11. Die Here God vra toe vir die mens: “Wie het jou vertel dat jy kaal is? Of het jy van die verbode boom se vrugte geëet?”

12. Die mens sê toe: “Dit is alles die vrou se skuld. Die einste vrou wat U my gegee het, het my van die boom se vrugte gegee. En ek het dit geëet.”

13. Die Here God vra toe vir die vrou: “Hoekom het jy dit gedoen?”Sy het geantwoord: “Dit is die slang se skuld. Hy het my om die bos gelei, toe het ek van die vrugte geëet.”

14. Die Here God sê toe vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek. Van al die wilde diere, ja, van almal in die dierewêreld sal dit met jou die heel slegste gaan. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet jou hele lewe lank.

15. “Ek maak jou en hierdie vrou bitter vyande van mekaar. Jou nageslag en haar nageslag sal mekaar haat. Hulle sal altyd probeer om jou kop plat te trap. En jy sal hulle aan die hakskeen wil byt.”

16. Vir die vrou het Hy gesê: “Wanneer jou kinders gebore word, sal jou pyn ondraaglik wees. Elke kind sal in die allergrootste pyn gebore word. Jy sal ook altyd na jou man bly verlang, hy sal jou oorheers.”

17. Vir die man het Hy gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en van die verbode vrugte geëet het, sal die grond vervloek wees ter wille van jou: jy sal jou lewe lank bitter hard moet werk. Niks groei van nou af meer vanself uit die aarde nie. As jy iets wil oes, sal jy hard, baie hard, daarvoor moet werk.

18. “En dan sal daar ook nog oral dorings en onkruid groei. Jy sal die plante van die veld moet eet.

19. Met sweet en met harde werk sal jy ’n lewe uit die grond moet maak. So sal jy moet aanhou totdat jy dood is, totdat jy geword het soos die stof waaruit jy gemaak is. Onthou, jy is van stof gemaak en eendag sal jy ook maar weer net stof word.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 3