Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 3:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Die mens sê toe: “Dit is alles die vrou se skuld. Die einste vrou wat U my gegee het, het my van die boom se vrugte gegee. En ek het dit geëet.”

13. Die Here God vra toe vir die vrou: “Hoekom het jy dit gedoen?”Sy het geantwoord: “Dit is die slang se skuld. Hy het my om die bos gelei, toe het ek van die vrugte geëet.”

14. Die Here God sê toe vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek. Van al die wilde diere, ja, van almal in die dierewêreld sal dit met jou die heel slegste gaan. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet jou hele lewe lank.

15. “Ek maak jou en hierdie vrou bitter vyande van mekaar. Jou nageslag en haar nageslag sal mekaar haat. Hulle sal altyd probeer om jou kop plat te trap. En jy sal hulle aan die hakskeen wil byt.”

16. Vir die vrou het Hy gesê: “Wanneer jou kinders gebore word, sal jou pyn ondraaglik wees. Elke kind sal in die allergrootste pyn gebore word. Jy sal ook altyd na jou man bly verlang, hy sal jou oorheers.”

17. Vir die man het Hy gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en van die verbode vrugte geëet het, sal die grond vervloek wees ter wille van jou: jy sal jou lewe lank bitter hard moet werk. Niks groei van nou af meer vanself uit die aarde nie. As jy iets wil oes, sal jy hard, baie hard, daarvoor moet werk.

18. “En dan sal daar ook nog oral dorings en onkruid groei. Jy sal die plante van die veld moet eet.

19. Met sweet en met harde werk sal jy ’n lewe uit die grond moet maak. So sal jy moet aanhou totdat jy dood is, totdat jy geword het soos die stof waaruit jy gemaak is. Onthou, jy is van stof gemaak en eendag sal jy ook maar weer net stof word.”

20. Die man het sy vrou Eva genoem, want uit haar is al die latere geslagte mense gebore.

Lees volledige hoofstuk Genesis 3