Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:58-67 Die Boodskap (DB)

58. Hulle het Rebekka laat kom en vir haar gevra: “Wil jy nou al saam met hierdie man weggaan?” En sy het geantwoord: “Baie graag.”

59. Die familie het toe hulle suster, Rebekka, asook die vrou wat haar grootgemaak het, gegroet. Hulle het ook Abraham se werker en al die mans wat saamgekom het, gegroet.

60. Almal het vir oulaas om Rebekka gestaan en gesê: “Ons suster, mag jy baie kinders hê, duisend maal tien duisend kinders. En mag jou nageslag sterk wees, sterk genoeg om die vyand se stede te oorwin.”

61. Daarna het Rebekka en almal saam met haar op die kamele geklim en hulle is saam met die man weg. Dit is dan die verhaal van hoe die werker Rebekka gevat het en haar gebring het.

62. Isak het intussen in die omgewing van die Negev gaan bly en het van Lagai-Roï se waterput af met die vee getrek.

63. Toe hy op ’n keer teen die aand se kant ’n entjie gaan stap het om na te dink, sien hy skielik die kamele wat kom.

64. Op daardie oomblik kyk Rebekka op en sien Isak daar staan. Sy het vinnig afgeklim en vir een van die werkers gevra:

65. “Wie is die man daar anderkant? Die een wat nou na ons toe aangestap kom?”“Dit is die man vir wie ek werk,” het hy gesê. Toe vat Rebekka haar sluier en maak haarself toe.

66. Abraham se werker het vir Isak alles vertel wat gebeur het.

67. Isak het Rebekka na sy ma se tent toe gevat en hy het met haar getrou. Isak het haar liefgekry. Haar liefde het hom getroos omdat hy nog hartseer was oor sy ma se dood.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24