Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:42-56 Die Boodskap (DB)

42. “Toe ek vanmiddag by die fontein aangekom het, het ek net gebid: ‘Here, U is die God van meneer Abraham, help my asseblief met wat ek moet sê en doen.

43. Here, ek gaan hier by die fontein bly staan en as hier ’n jongmeisie aankom, gaan ek haar vra om vir my water uit haar kruik te gooi.

44. As sy instem en ook water vir my kamele aanbied, sal sy die vrou wees wat U vir my eienaar se seun gekies het.’

45. “Voor ek klaar gebid het, kom Rebekka met ’n waterkruik op die skouer aangestap. By die fontein het sy met die trappies afgeloop en water geskep. Toe sy wou terugstap, vra ek haar: ‘Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?’

46. Sy het onmiddellik haar kruik afgetel en gesê: ‘Drink gerus. Ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Ek het gedrink en sy het die kamele water gegee.

47. En ek het vir haar gevra: ‘Wie is jou pa?’ en sy het geantwoord: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en Milka.’ Dit is toe dat ek vir haar die ring aan haar neus gesit het asook die armbande wat sy aanhet.

48. Daarna het ek in dankbaarheid voor die Here gebuig en Hom geprys. Ek het die God van meneer Abraham geloof omdat Hy my reguit na Rebekka toe gelei het. Ek het Hom geprys omdat ek een van meneer Abraham se eie mense vir Isak as vrou gekry het.

49. “As u vandag my meester eer en liefhet, moet u dit asseblief vir my sê. As u nie so dink nie, moet u dit ook asseblief vir my sê.”

50. Laban en Betuel het onmiddellik geantwoord: “Hierdie saak is van die Here. Wat ons nou ook al dink of sê, is nie van belang nie, want die Here het alles so laat gebeur.

51. Hier is Rebekka dan. Vat haar saam en laat sy met Abraham se seun Isak trou, soos die Here gesê het.”

52. Toe Abraham se werker dit hoor, was hy so bly dat hy op die grond gekniel en die Here geloof het.

53. Hy het vinnig goue en silwer geskenke gaan haal en dit saam met ’n klomp klere vir Rebekka gegee. Hy het ook geskenke vir haar ma en broers gegee.

54. Toe het hy en die mans geëet en gedrink en die nag daar oorgebly. Die volgende oggend het die werker gesê: “Ek wil baie graag nou teruggaan.”

55. Rebekka se broers en haar ma het gesê: “Wag ’n rukkie. Laat haar vir nog so ’n dag of tien by ons bly en dan kan sy saam met jou gaan.”

56. “Mense,” het die werker gesê, “julle was baie goed vir my, maar moet my tog nie nou keer nie. Die Here het my gehelp om te doen wat ek moes doen, en nou wil ek so gou moontlik na my meester teruggaan.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 24