Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:34-47 Die Boodskap (DB)

34. “Ek werk vir Abraham,” het hy begin.

35. “Die Here het meneer Abraham geseën en hom ’n ryk man gemaak. Hy het hom troppe skape, bokke en beeste gegee asook baie silwer en goud, mans- en vrouewerkers en ook nog ’n klomp donkies en kamele.

36. Sara, my meneer se vrou, het hom op ’n hoë ouderdom ’n seun gegee. En meneer Abraham het alles wat hy het, vir dié kind gegee.

37. My meneer het my toe met ’n eed laat belowe dat ek nooit vir Isak ’n jongmeisie in Kanaän waar ons bly, sal gaan soek nie.

38. Hy het gesê ek moet na sy pa se mense toe gaan, na sy stam, en daar vir Isak ’n vrou loop soek.

39. Ek was bang en het geantwoord: ‘Sê nou sy wil nie saamkom nie? Wat dan?’

40. Hy het my gerusgestel en gesê: ‘Die Here vir wie ek nog altyd lief was, sal sy engel saamstuur en jou help om vir Isak ’n vrou by my pa se familie te kry.

41. As my familie weier dat sy saam met jou terugkom, is jy vry van jou eed en van al jou verpligtings.’

42. “Toe ek vanmiddag by die fontein aangekom het, het ek net gebid: ‘Here, U is die God van meneer Abraham, help my asseblief met wat ek moet sê en doen.

43. Here, ek gaan hier by die fontein bly staan en as hier ’n jongmeisie aankom, gaan ek haar vra om vir my water uit haar kruik te gooi.

44. As sy instem en ook water vir my kamele aanbied, sal sy die vrou wees wat U vir my eienaar se seun gekies het.’

45. “Voor ek klaar gebid het, kom Rebekka met ’n waterkruik op die skouer aangestap. By die fontein het sy met die trappies afgeloop en water geskep. Toe sy wou terugstap, vra ek haar: ‘Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?’

46. Sy het onmiddellik haar kruik afgetel en gesê: ‘Drink gerus. Ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Ek het gedrink en sy het die kamele water gegee.

47. En ek het vir haar gevra: ‘Wie is jou pa?’ en sy het geantwoord: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en Milka.’ Dit is toe dat ek vir haar die ring aan haar neus gesit het asook die armbande wat sy aanhet.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24