Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 23:8-19 Die Boodskap (DB)

8. “U is baie goed vir my, want u gee my grond sodat ek my vrou kan begrawe. Nou wil ek u versoek om tog met Efron, seun van Sohar, te praat,

9. en vir hom te vra om die grot van Magpela aan my te verkoop. Hy besit dit en dit is aan die rand van sy grond geleë. Ek sal hom sy volle prys betaal. Ons kan die transaksie sommer hier voor u almal afhandel.”

10. Efron was ’n gesiene man. Hy het in die stad se poort saam met al die ander belangrike Hetiete gesit en na Abraham se versoek geluister.

11. Efron het geantwoord: “Nee, Meneer, dit is nie nodig nie. U hoef my niks te betaal nie. Voor al my mense gee ek u vandag die grond met grot en al. U kan sommer vandag nog u vrou daar gaan begrawe.”

12. Abraham het weer voor almal gebuig.

13. Hy het met Efron voor al die ander dorpsraadslede in die poort gepraat. “Meneer, baie dankie. U is werklik goed vir my, maar ek wil eerder die grond by u koop. As ek dit gekoop het, kan ek my vrou daar begrawe.”

14. “Goed dan,” het Efron gesê. “Laat ons tog nie stry nie.

15. Jy kan alles vir vier en ’n half kilogram silwer kry. Dan kan jy jou vrou gaan begrawe.”

16. Abraham het Efron se aanbod aanvaar. Hy het toe die hele bedrag in silwer voor Efron en die Hetiete afgetel en dit vir hom gegee. Almal was oortuig dat die transaksie wettig was.

17. So het Efron se landgoed in Magpela oos van Mamre Abraham se eiendom geword. Die land met die grot en al die bome in die gebied het nou aan Abraham behoort.

18. Alles het gebeur in die teenwoordigheid van al die Hetiete wat in die dorpsraad gedien het.

19. So het dit gebeur dat Abraham sy vrou Sara in die grot van Magpela digby Mamre in die land Kanaän kon begrawe het. Vandag nog word die plek Hebron genoem.

Lees volledige hoofstuk Genesis 23